Bestuur beïnvloed voerkraalprestasie

Droë-materiaal-inname (DMI) bepaal grootliks die Gemiddelde Daaglikse Toename (GDT) van ’n voerkraaldier. Daadwerklike pogings moet dus aangewend word om die dieet so te prosesseer en smaaklikheid te bestuur om DMI te verhoog.

Daar is vele faktore wat die DMI en gevolglik GDT van ’n voerkraaldier beïnvloed, naamlik beskikbaarheid en gehalte van drinkwater, morbiditeite, samestelling en prosessering van die Totaal Gemengde Rantsoen (TGR), diergemak en omgewingstoestande. Hierdie faktore skep groot uitdagings vir die voerkraaleienaar, maar die wyse waarop hierdie uitdagings bestuur word, het ’n baie groot invloed op die winsgeendheid van die voerkraalonderneming.

Hoe word die volgende aspekte bestuur?

1. Gehalte van die diere

Daar moet altyd gepoog word om laerisikodiere aan te koop. Laerisikodiere verwys na lewenskragtige diere wat reeds gespeen is en wat verkieslik oor ’n kort afstand vervoer moet word. Dit sluit diere in wat reeds geënt is en oor ’n ’n sterk, aktiewe immuunstelsel beskik. Studies toon dat ’n 1%-verhoging in mortaliteite ’n 3%-verlaging in GDT tot gevolg het. Dit is dus van groot waarde om ’n effektiewe inentingsprogram te volg. Raadpleeg jou plaaslike veearts vir so ’n program.

2. Roetine

Alhoewel uiteenlopende resultate in navorsingsliteratuur gerapporteer word, kan die invloed van wisselende DMI nie buite rekening gelaat word nie. Galyean et al. toon reeds in 1992 dat ’n wisselvallige DMI kan lei tot ’n 6,5%-verlaging in GDT en ’n 6,9%-verswakking in voeromset.

Sommige navorsers voer aan dat die verlaagde prestasie wat geassosieer word met wisselende DMI toegeskryf kan word aan ’n verlaagde doeltreffendheid in die benutting van die nutriënte in die dieet en/of ’n verhoogde onderhoudsbehoefte by die diere, wat waarskynlik toegeskryf kan word aan subkliniese spysverteringsteurnisse. Die TGR moet dus akkuraat gemeng word om konstante DMI te verseker, en daar moet gepoog word om elke voeding daagliks binne 15 minute van die vorige dag se voeding te doen.

3. Diergemak

Waak teen vuil krale. Sweeten et al. het in 2014 ’n 13% swakker voeromset met ’n verlaging in DMI van tussen 8 en 15% gerapporteer vir diere wat in 11-20 cm modder staan.

4. Waterkripbestuur

Waterinname het ’n direkte invloed op DMI. Wanneer waterinname beperk word, sal die DMI ook verlaag, wat dus die GDT verlaag. Waterinname kan verlaag wanneer watertoevoer beperk is, drinkwater te warm is of wanneer die water onsmaaklik of gekontamineer is. Water moet dus op ’n gereelde grondslag ontleed word en waterkrippe moet gereeld gewas word om te verseker dat alge tot ’n minimum beperk word. Begrawe pype wat water na waterkrippe neem, sodat die water koel kan bly.

5. Voerkripbestuur

Dit is van kardinale belang om die regte hoeveelheid van die regte voer op die regte tyd aan diere te voer. Voer wat langer as 24 uur in die krip bly, kry ’n onaangename reuk wat DMI, asook GDT, verlaag. Veral rantsoene met ’n hoër voginhoud is geneig om giste en swamme te ontwikkel wanneer dit te lank in die voerkrippe bly tydens die warm maande.

KERNBOODSKAP

Deur die regte diere aan te koop en die bestuur op te skerp, kan die prestasie van die diere in ’n voerkraal verbeter word.

Martin Kotze
NORTH WEST, SOUTHERN FREE STATE, LESOTHO: RUMINANT