TECHNICAL ARTICLES Beef

Droogtevoeding 2007

Inleiding Figuur 1 toon duidelik dat die reënval oor die afgelope 3 maande in die grootste deel van Suid-Afrika ondergemiddeld was. Daarbenewens toon Figuur 2 dat groot dele van Suid-Afrika reeds vanaf September 2006 aan verskillende grade van droogtes onderworpe is.

Reënval voorspelling deur die Suid-Afrikaanse Weerdienste vir die periode van Maart tot April 2007 is ook negatief, met ‘n 40 % kans op ondergemiddelde reënval vir die hele land. Dit lyk dus asof veeboere ‘n droë winter tegemoetgaan, met beperkte ruvoer om hul vee te oorwinter.

Figuur 1 Reënval in Suid-Afrika vanaf Desember 2006 tot Februarie 2007

PICTURE 1

Dit is ‘n baie negatiewe boodskap om die artikel mee af te skop, maar dit is nodig om die onaangename realiteit van ‘n waarskynlike droogte vroegtydig in die oë te kyk en pro-aktiewe aksies te implimenteer, eerder as om onvoorbereid te wees. Sodoende kan die negatiewe impak van ‘n droogte op u boerdery tot ‘n minimum beperk word.

Figuur 2 Droogtetoestande in Suid-Afrika vanaf September 2006 tot Februarie 2007

PICTURE 2

Ekstensiewe veeboerderye

Dit is noodsaaklik om te onderskei tussen aanvullende voeding en droogtevoeding. Die doelwit met aanvullende voeding is om optimale prestasie te behaal deur die tekorte in weidings aan te vul. Met aanvullende voeding behoort daar volop weiding beskikbaar te wees, selfs al sou die kwaliteit van die weiding swak wees.

Droogtevoeding tree in wanneer die weiding (ruvoer) beperk is en nie meer in staat om in 30 % van die diere se voedingsbehoeftes te voorsien nie. Die doelwit met droogtevoeding is om die diere aan die lewe te hou en daardie produksiepeil te handhaaf wat die optimum opbrengs op belegging sal realiseer.

Omdat beskikbare ruvoer beperk is tydens droogtetoestande, is dit gewoonlik raadsaam om die swakste diere te identifiseer en te bemark. Hier is dit belangrik om vroegtydig die identifikasie te doen, sodat die diere bemark kan word met die minste moontlike insette, dus terwyl daar nog ruvoer beskikbaar is wat as basis van die rantsoen kan dien. Diere met prulfoute behoort eerste bemark te word, gevolg deur ou diere. Daarna kan die aanteelkudde in ‘n eerste, tweede en derde kudde verdeel word en indien nodig kan die derde kudde (swakste genetiese materiaal) eerste verkoop word, sodat die beste genetiese materiaal behou word.

Die oorblywende diere moet op die goedkoopste wyse in produksie gehou word om deurlopende inkomste te verseker. Die beste manier om produksie te bestuur is om die kondisie van die diere te manipuleer. Op ‘n skaal van 1 tot 5, waar 1 = maer en 5 = oorvet, behoort droë diere ‘n kondisiepunt van 1 te handhaaf. ‘n Duimreël wat hier gevolg kan word, is dat die diere met ‘n aanvangs-kondisiepunt van 3 ‘n maksimum van 25 % van hul massa mag verloor. Vir volwasse ooie van 55 kg en koeie van 500 kg, is die minimum lewendige liggaamsmasse wat dus gehandhaaf moet word tydens die droë periode onderskeidelik 41 kg en 375 kg. Indien die diere toegelaat word om meer massa te verloor sal reproduksie en moontlik ook voerinname totaal staak en kan die diere dus vrek. Die koste om sulke diere weer in produksie te kry is ook so hoog dat dit nie die moeite werd is om dit te doen nie. Droë diere behoort te oorleef deur droogtevoeding een maal per week te voorsien. Dit sal inname van onsmaaklike en beperkte weiding stimuleer. Voorkom egter oorbenutting van die weiding, omdat dit gronderosie sal bevorder.

Vir diere wat in ‘n produksiestaat verkeer (paartyd, laatdragtigheid en laktasie) behoort ‘n kondisiepunt van 2-3 gehandhaaf te word (+/- 48kg vir ooie en 435 kg vir koeie, met volwasse massas van onderskeidelik 55 kg en 500 kg in goeie kondisie). Dit beteken egter nie dat die diere vir 12 maande van die jaar in hierdie kondisie moet wees nie. Maak gebruik van prikkelvoeding vanaf 3 weke voor paring om die diere van ‘n kondisietelling van 1 na >2 te verbeter. Dit sal ovulasie stimuleer (hittesiklus = 17 tot 21 dae) en dus besetting verbeter. Manlike diere se kondisie behoort egter vanaf 8 weke voor paring verbeter te word, omdat spermatogenese (spermproduksie) langer neem om voltooi te word. Hou vol met die prikkelrantsoen tydens paring omdat die embrio baie sensitief is vir strestoestande in die vroeë stadium en voedingstres moontlike embrio-resorbsie kan induseer. Voorsien die droogtevoeding twee maal per week aan hierdie diere.

Gedurende vroeë- en middragtigheid ontwikkel die plasenta en behoort die diere se liggaamsmassa normaalweg matig te styg. Tydens droogtes behoort dit egter voldoende te wees om liggaamsmassa en ‘n kondisietelling van 2 slegs te handhaaf deur droogtevoeding twee maal per week te voorsien.

In laatdragtigheid (die laaste derde van die dragtigheidperiode, direk voor lam of kalwing) vind ongeveer 80 % van fetusgroei plaas. Dit is ook gedurende hierdie stadium dat uierontwikkeling plaasvind en voeding tydens laatdragtigheid het dus ‘n direkte invloed op geboortemassa, lam- of kalfoorlewing, en melkproduksie. Dit blyk ook dat voedingstatus gedurende laatdragtigheid ‘n invloed het op die voorkoms van dik en taai bies by ooie, wat die pasgebore lam nie uit die speen gesuig kry nie. Dit sou dus sinneloos wees om geld te spandeer om diere dragtig te kry en dan gedurende laatdragtigheid u potensiële inkomste te verlaag deur die diere aan voedingstres te onderwerp.

Die voedingsbehoeftes van lakterende diere is die hoogste wat dit ooit in die totale produksiesiklus van die dier sal wees. Vroulike diere wat lammers of kalwers soog behoort dus toegang tot voldoende voeding te hê, sodat melkproduksie optimaal kan plaasvind. Dit is tog logies dat die groei van die lam of kalf direk gekoppel is aan die vermoë van die moeder om melk te produseer. Ooie bereik piek melkproduksie op ongeveer 3 weke na lam en vleisras-koeie op sowat 6 weke na kalwing. Poog om deur middel van goeie voeding na lam of kalwing die piek melkproduksie te verhoog, sodat die nageslag goed groei in die baie jong stadium en vroeër gespeen kan word. Droogtevoeding gedurende laatdragtigheid en vroeë laktasie behoort minstens drie maal per week verskaf te word.

Die voeromsetverhouding (kg voer benodig vir 1 kg lewendige massatoename) van jong diere is aansienlik beter as vir ouer diere. Met geboorte benodig die jong dier ongeveer 1 kg melk vir elke 1 kg liggaamsmassa-toename, terwyl dit by ou diere tot soveel as 10 kg voer vir 1 kg lewendige massatoename kan wees. Dit maak dus sin om die jong diere vroeër te speen en van goeie voeding te voorsien, omdat hulle dit meer doeltreffend benut. Die vroulike diere kan dan vroeër op ‘n goedkoper onderhoudsrantsoen geplaas word, en liggaamskondisie kan daarna afwaarts bestuur word tot ‘n minimum kondisiepunt van 1, totdat die volgende prikkelperiode voor paring aanbreek.

Lammers kan suksesvol op 8 weke ouderdom met ‘n minimum lewende massa van 15 kg gespeen word. Alhoewel dit moontlik is om ligter lammers suksesvol te speen, is die risiko van vrektes in sulke gevalle aansienlik hoër. Kalwers kan onder praktiese toestande teen 5 maande oud gespeen word.

Dit is goedkoper om vroeër eerder as later met aanvullende voeding te begin, en dan oor te skakel na droogtevoeding sodra die beskikbare ruvoer baie beperk word. Aanvang van aanvullende voeding kan nie later uitgestel word as wanneer die diere wat in ‘n matige kondisie was (kondisietelling 2 – 3), 10 % van hulle liggaamsmassa verloor het nie.

‘n Droogte bly op sy beste ‘n baie onaangename ervaring. Om egter die minste skade te ly is dit nodig dat u van bogemelde riglyne gebruik sal maak en sodoende die droogte te gebruik om van minder produktiewe diere ontslae te raak en meerderwaardige genetiese materiaal te behou vir toekomstige teling.

Melkerye

Broom (1995) het ‘n kortlys van elf punte gepubliseer wat melkprodusente te doen staan wanneer hulle deur ‘n droogte in die gesig gestaar word. Die stappe word hieronder gelys:

  • Maak ‘n lys van die beskikbaarheid van alle plaasgeproduseerde voere en water, en beraam dan die hoeveelhede wat benodig gaan word tot die verwagte terugkeer na normale reëns.
  • Klas koeie volgens produksie, stadium van laktasie, en liggaamskondisie (byvoorbeeld >25 liter, 20 tot 25 liter, 14 tot 19 liter, 13 liter tot droog, ens.) en projekteer dan die moontlike getal koeie in elke groep vir die voorsiene duur van die krisistyd.
  • Klassifiseer ook die vervangingsverse volgens ouderdom en gewig, en projekteer die inligting vir die voorsiene duur van die krisistyd.
  • Beplan ‘n besproeiing-strategie. Moet nie oorbesproei nie en moet nie water mors nie.
  • Spreek ‘n adviseur, en beplan ‘n voedingstrategie vir elke groep, vir elke maand van die voorsiene krisistyd.
  • Bereken die hoeveelhede van die verskillende voere wat aangekoop moet word, besin oor die beskikbaarheid daarvan, en plaas die nodige bestellings.
  • Moet nie hoendermis aan die droë koeie voer gedurende die laaste drie weke voor kalwing nie, want dit kan melkkoors in die hand werk.
  • Projekteer maandelikse melkproduksie gebaseer op die voedingstrategie wat beplan is.
  • Doen ‘n heel-plaas kontantvloei-projeksie, en dateer dit gereeld op. Hiervolgens kan mens evalueer hoeveel inkomste daar sal wees om van te leef, en om skuld te betaal. As daar tekorte blyk te wees, kan dit vroegtydig met die bankbestuurder bespreek word. Moet liefs nie finale besluite grond op per eenheid of marge-analise nie, want dit mag misleidend wees.
  • Doen ‘n evaluasie van die volgende: ‘n wins en verlies vooruitskatting, die bedryf (enterprise), en belasting op toegevoegde waarde, sowel as normale belasting.
  • Moet nie paniekerig raak raak nie, behou ‘n positiewe ingesteldheid, en beplan vir oorlewing. Onthou: Dit sal weer reën.

Vandag is Broom se voorstelle nog net so geldig as 22 jaar gelede. Dit blyk dat die boer die hulp van ander kundiges moet inroep om sy droogtestrategie te help beplan, byvoorbeeld kundiges in besproeiing, dierevoeding, en geldsake. Tydige aksie is ook nodig, om die beste posisies te beding. Vandag sal dit ook vir boere moontlik wees om markinstrumente soos verskansing te gebruik as deel van hul droogtebestuur-strategie, iets wat nie in 1995 moontlik was nie.

In ‘n intensiewe boerderystelsel soos ‘n melkerye is daar nie juis sprake van veevermindering om die droogte te pypkan nie. Sou daar wel enkele oorbodige diere op die plaas wees, kan daar heel eerste van hulle ontslae geraak word. Die fokus moet egter hoofsaaklik geplaas word op alternatiewe vir die mees beperkende hulpbronne, waarskynlik voere soos kuilvoer en hooi, en besproeiingswater (wat weer mag meebring dat daar in weidingstelsels minder gras beskikbaar gaan wees vir beweiding).

In meeste gevalle is kuilvoer ‘n plaasgeproduseerde voer, en in droogtetye is opbrengste gewoonlik laer, en dit geld dikwels ook die kwaliteit van die kuilvoer wat wel geproduseer word. Die beskikbaarheid van hooi (gras, lusern) is tydens droogtes ‘n knelpunt, en omdat die vraag skielik groter as die aanbod is, is daar prysstygings (wat soms drasties mag wees).

Dus behoort die melkboer ‘n bestekopname te maak van die alle plaasgeproduseerde voerbronne, en dit dan te vergelyk met die voer wat benodig word om ‘n bepaalde produksiepeil te kan handhaaf. Die tekort moet met die mees koste-doeltreffende alternatiewe aangevul te word. Die strategie kan wees om die mees produktiewe diere (koeie vars in melk; die hoogs produserende koeie) op ‘n aangekoopte volvoer of semi-volvoer te plaas. Die plaasgeproduseerde voer en aangkoopte konsentrate kan dan aan die res van die lakterende koeie, droë koeie, verse, en kalwers gevoer word. Nog ‘n strategie kan wees om onkonvensionele alternatiewe voere te oorweeg om die voervloei-tekorte aan te vul. ‘n Goeie voorbeeld hiervan sal wees produkte wat gebruik word om die kuilvoervoorraad te rek (“silage extenders”) of om die ruvoervoorraad (grasweiding en/of hooi) te rek.

Kwaliteit van die plaasgeproduseerde voerbronne en alternatiewe ruvoere sal ‘n bepalende rol speel in die verwagte melkproduksie. Dit is moontlik om met behulp van biologiese modelle (soos AMTS.cattle en Cornell Penn Miner (CPM)) betreklik getroue vooruitskattings te doen van die uitwerking wat variasie in voerkwaliteit (byvoorbeeld lusernhooi of grashooi) op biologiese prestasie kan uitoefen. Sodoende kan meer realistiese besluite geneem word oor die waarde van wat verskillende bronne of aanbiedings van voer. Die goedkoopste alternatief is nie noodwendig die mees koste-effektiewe keuse nie. Ons kan u hiermee help.

Meadow Feeds beskik oor verskeie produkte wat melkboere tydens droogtesituasies kan oorweeg as deel van hul voedingstrategie. Enkele voorbeelde sluit in Silage Cubes (V18771, Wet 36 van 1947; om die kuilvoer mee te rek), Herbivore Sweetfeed Pellets (V19426, Wet 36 van 1947; ‘n laer koste alternatief vir uitgroei van kalwers na speen), en ‘n uitgebreide reeks van volvoere en semi-volvoere (in situasies waar die plaaslik beskikbare ruvoerbronne beperkend is).

Kontak gerus vir Stephen Slippers of Joubert Nolte vir verdere navrae oor produkte en dienste wat u tydens die droogtetyd mag benodig. Ons telefoonnommer is 011-991 6000.

Verwysing

Broom, D., 1995. Surviving the drought. Kwazulu-Natal Dairy 9.1.1995. In: T.J. Dugmore (Ed.). Dairying in KwaZulu-Natal. KZN Department of Agriculture, Pietermaritzburg. Page 265.

Date published: 2007-04-05

Author: N/A

Publication: N/A